Konserte / Concerts

Atterbury Paul Roos Musiekfees

Die Atterbury Paul Roos Musiekfees: sleep jou dagboek nader!
Stadsaal se dak kort herstelwerk na dié vertoning
Dexter Labuschagne

Paul Roos Gimnasium het verlede week (op 21 en 22 Augustus 2019) saam met Amanda Strydom die Stellenbosch-stadsaal se dak byna letterlik laat lig met die eerste Atterbury Paul Roos-Musiekfees, en daarmee saam nóg ’n jaarlikse datum op Stellenbosch se reeds besige kultuurkalender vasgelê.

As bekende en geliefde Afrikaanse sangeres het Amanda met haar fluweelstem die gehore soos gewoonlik betower.  Ander optredes het ingesluit dié van Eikestad Laerskool en die Laerskool De Hoop se kore; Bloemhof se sanggroep; Paul Roos se Drumline en Band; die Free State Wind Band en die Brax Quintet, asook ‘n gekombineerde houtblaas- en -strykorkes (Musica Perpetua en Stringendo, bestaande uit leerders van Paul Roos Gimnasium, Bloemhof Hoër Meisieskool en Rhenish Girls’ High).

Die diverse program het gewissel van ballades soos Amanda se bekende “Ek loop die pad” tot die bekende “Time to say goodbye”, gesing deur ‘n massakoor van 400 seuns saam met mnr. Louis van der Merwe (oud-skolier en tans onderwyser by Paul Roos), en begelei deur ’n orkes van by die 100-lede.

Die Musiekfees kon natuurlik nie anders nie as om afgesluit te word deur ’n asembenemende uitvoering van “Oh Boys of Paul Roos”, gesing deur die massakoor en ’n Old Boys-koor wat spesiaal vir die geleentheid saamgestel is.

Hierdie musiekfees gaan ‘n jaarlikse instelling word wat niemand wil misloop nie.

Paul Roos bedank graag die hoofborg, Atterbury; die ondersteunende borg, Nashua Winelands en alle ander borge wat hierdie indrukwekkende geleentheid moontlik gemaak het.