Algemene Nuus / General News

Die land se enigste Latyn-student is in PRG *Ave atque vale

Christian Hamman in Graad 12 skryf vandag sy finale Latyn-vraestel as enigste matriek wat dié vak onder die beskerming van die Departement van Basiese Onderwys neem.

En hy skryf dit vir die tweede keer saam met Skeinat (hierdie keer chemie) – géén maklike taak om aan te pak nie.

Nie dat Christian terugstaan vir uitdagings nie.

Hy staan 1.97m in sy sokkies, en kon seker maklik vir enige rugbyspan uitgedraf het, maar het skerm en karate as sportsoorte gekies (want dit ontwikkel jou breinkrag), en sy lekkerste tydverdryf is om sy tenoorsaksofoon te gryp en jazz te speel.

Hy neem ook musiek as vak, en is een van die trotsste produkte van Paul Roos se Departement Musiek – as lid van die orkes vir vyf jaar; ook vyf jaar lid van die skoolkoor (wat verlede jaar aangewys is as die beste seunskoor in die land); drie jaar lid van die Paul Roos-sanggroep en twee jaar lid van die skool se nuut gestigte saksofoon-kwintet.

Hy het vanjaar (aanlyn) Trinity College in Londen se altsaksofoon-eksamen (Graad 8 – die hoogste graad) afgelê, maar wag nog vir die uitslae.

Vanjaar was daar weens Covid-19 geen kunswedstryde nie, maar in 2019 het Christian cum laude vir solosang gekry en ook vir saksofoon-solo.

Oor Latyn het Christian die volgende te sê:

“In ál my jare van Latyn neem – al vier en ’n half van hulle – is daar nie ’n vak wat my só geïnspireer het om vrae te vra nie.

In hierdie vier en ’n half jaar onder leiding (soms ook lyding) van me. Hesti van der Mescht, het ek nou al ál daardie vrae kon beantwoord.

Wie? Wat? Waar? Wanneer? Hoe? Hoekom? Hoekom sou ek, wat ’n Graad 8-leerder in Paul Roos was, ’n dooie taal wou aanleer terwyl ek vere gevoel het vir tale oor die algemeen? Die enigste waarneming van Latyn deur my generasie is in rolprente – of glad nie.

Ek moet bieg, my enigste kennis van Latyn voordat ek dit geneem het is dat die Romeine dit gepraat het en dat dit moeilik is.

En ja, dit ís.

Al het ek min rede gehad om die taal aan te leer, het dit vir my nie net groot uitdagings gebied nie, maar ook groot genot.

Elke ander vak behoort skaam te kry, want in Latyn is daar opwindende stories, ’n republiek en ’n ryk wat eeue se Westerse beskawing gedefinieer het; uitdaging, toepassing, retoriek, teologie, en soveel meer dat ’n hele biblioteek slegs uit hierdie lys kan bestaan.

Daar is ook geen ander vak wat op my só ’n impak gehad het, selfs buite die klaskamer nie.

Nie net is die Romaanse tale (Frans, Italiaans, Spaans, ens.) makliker om aan te leer nie; selfs Engels en Afrikaans se parallelle met Latyn kan nie ontken word nie. Dit is slegs deur hierdie “dooie” taal te ontleed dat jy regtig leer hoe ’n lewende taal funksioneer.

En dit stop nie by tale nie!

Latyn leer jou ook om analities te dink, om aan die fyner besonderhede aandag te skenk en dit gee vir jou perspektief oor hoe ’n taal mense se denke weerspieël.

Alhoewel Latyn beslis my moeilikste vak is (ja, Skeinat, gaan treur daar in jou hoekie!), my tyd verorber, en my vriende irriteer wanneer ek hulle begin aanspreek oor die oorsprong van ’n woord, was dit beslis een van my beste lewenskeuses om hierdie taal aan te leer.

Ave atque vale! (*Hallo en tot siens)”