Filmit films nou beskikbaar vir besigtiging
Hierdie jaar was nie sonder uitdagings nie. Met die enorme impak wat die tweede jaar van die pandemie op die kulturele aktiwiteite by skole gehad het, het die bekendmaking van die innoverende Filmit kompetisie vir hoërskole ‘n ligstraal laat opvlam wat die verbeelding van leerders regoor die land tot so ver as Namibië ontketen het. Hierdie kompetisie is moontlik gemaak deur Atterbury en WeBuyCars.
Paul Roos Gimnasium, Atterbury en WeBuyCars het Filmit in Maart 2021 aangekondig – ‘n kompetisie wat hoërskoolleerders uitdaag om hul filmidees aan ‘n paneel van onafhanklike beoordelaars voor te lê. Ten spyte van die pandemie was daar 70 inskrywings vanaf 35 skole dwarsoor Suid-Afrika asook vanaf Windhoek, Namibië. Van hierdie sewentig inskrywings is twintig van die beste voorleggings goedgekeur. Hierdie twintig skoolgroepe het deurgedring tot die volgende fase van die kompetisie. Dié finaliste het deurlopend mentorskap ontvang. ‘n Voorafopgeneemde opvoedkundige video is beskikbaar gestel op YouTube en het adviesbrokkies deur industriekenners in die velde van draaiboekontwikkeling, regie en die vervaardiging van films ingesluit. Kenners in kamerawerk, klankingenieurswese, akteurspel en redigering het ook tot die opvoedkundige video bygedra. Die finaliste het ook aanlynmentorskapsessies met vyf Suidoosterakteurs geniet.
Teen Oktober 2021 het negentien uit die twintig finaliste hul films ingedien. Al die films is op Paul Roos Gimnasium se YouTube kanaal gelaai, waar die publiek vry is om die films te kyk en te geniet. Die publiek kon tussen 25 Oktober en 5 November vir hul gunsteling films stem. Die publieke stem tel 10% van die beoordelingsproses.
Die eksterne paneel van beoordelaars bestaan uit lede van Gambit Films, Infinity Films, Nagvlug Films, die Red and Yellow Creative School of Business, Annie’s Wardrobe en komponis, Braam du Toit. Genomineerdes in die onderstaande kategorieë sal Maandag , 15 November, teen 5nm aangekondig word.
- Beste film
- Beste regisseur
- Beste draaiboek
- Beste musiek of klankbaan
- Beste kamerawerk / kinematografie
- Beste redigeerder
- Beste spesiale effekte / kreatiwiteit op stel
- Beste kostuumontwerp / garderobe
- Beste aktrise
- Beste aktrise in ‘n ondersteunende rol
- Beste akteur
- Best akteur in ‘n ondersteunende rol
- Beste grafiese ontwerp
Twaalf kategoriewenners sal ‘n kontantprys vanaf ClemenGold ontvang. Die beste grafiese ontwerp wenner wen ‘n aanlynkortkursus in grafiese ontwerp by Red and Yellow Creative School of Business wat deur dié instansie geskenk is. Alle kategoriewenners ontvang mentorskap by industrie-spesialiste. Hierdie spesialiste sluit werknemers van filmmaatskappye, Gambit Films, Infinity Films, Nagvlug Films en Gravitron in. Ander spesialiste is onder meer Quanita Adams, Nosipho Dumisa-Ngoasheng, Braam du Toit, Fahema Hendricks, Eva du Preez, Nicole Fortuin, Neil Sandilands, Erica Wessels en Deon Lotz.
Die prysuitdeling sal aangebied word by Atlantic Studios en word moontlik gemaak deur Suidooster en Homebrew Films. Die gala-geleentheid sal op Vrydag 10 Desember plaasvind wanneer die wenners van die Filmit kompetisie aangekondig word en die eerste suksesvolle Filmit kompetisie saam met finaliste, wenners, beoordelaars, mentors, borge en lede van die Suidoosterspan gevier sal word.
Om die spesiale geleentheid by te woon en onderhoude met die wenners te skeduleer, kontak gerus vir Luna Paige by media@paulroos.co.za of whatsapp 082 859 2420. Sou addisionele of alternatiewe fotos vir publikasiedoeleindes benodig word, laat weet gerus vir Luna Paige.