Kultuur / Culture

Goeie jaar vir die sprekers van Paul Roos

Toe ons almal die wonderlike honderd en vyftigste uitgawe van die jaarboek so 4 jaar gelede stadig en aandagtig deurgeblaai het, het ons tussen die 378  bladsye, dalk die volgende misgekyk. Paul Roos het reeds vir die laaste 150 jaar ʼn trotste en ryke tradisie van debat en redenaars. Die debatsvereniging van Paul Roos gaan terug na die negentiende eeu en deel, net soos die skool, sy ontstaansgeskiedenis met die Universiteit Stellenbosch.  Volgens die artikel was daar al vele goue jare en bekende persoonlikhede in die geskiedenis van hierdie aktiwiteit. Dit het wel vir enkele jare stil geword maar van die 150ste jaar af en veral na die stigting van die PRG Debat komitee in 2018, het Paul Roos debat nuwe hoogtes bereik. Met Mihan van Zyl as voorsitter en Jacques Botma, Jean du Plessis, Alex Aldrich en Daniel Olivier as komiteelede is daar ‘n nuwe en vars kultuur geskep.

Gedurende die Debatkomitee se eerste jaar is baie tradisies afgestof en nuwe geleenthede gevestig.  Op 14 Februarie het Paul Roos hul eerste Kwinkslae-Skakel teen Bloemhof gehou waar die eerste senior- en junior span onvoorbereid oor die “Liefde” gedebatteer het. Die eerste Paul Roos ‘Speakers Corner’ is gehou in die derde kwartaal en het talle leerders se opinies ontlok oor die kwessie of die aarde werklik rond is. Die komitee beplan om elke kwartaal so ‘n pouse-debatsessie te hou om kritiese denke te bevorder. Die eerste Stellenbosch interskole debataand het ook plaasgevind met Paul Roos, Bloemhof en Hoërskool Stellenbosch wat oor interessante onderwerpe debatteer het.

Die komitee hoop om hierdie nuwe idees in langtermyn tradisies te omskep. Die komitee sal die vereniging van ouds se gepaste leuse van “Spes in Ardius” (Hoop ondanks teensale) erf en glo dat 2018 en die jare wat voorlê baie belangrike jare sal wees in die vaslegging van ʼn baie sterk fondament vir PRG debat en redenaars.

Debat en redenaars by Paul Roos het ook die afgelope paar jaar goed vlamgevat en het al talle noemenswaardige suksesse behaal. Die prestasies van die afgelope debatseisoen was egter heel waarskynlik die heel merkwaardigste, nie net uit die laaste 5 jaar nie, maar selfs in vergelyking met Paul Roos se totale debatgeskiedenis vol goue jare.

Nege Paul Roosers het vroeër in die jaar aan die eerste ronde van die ATKV-redenaarskompetisie deelgeneem. Twee juniors en 3 senior sprekers het deurgedring na die semi-finaal wat in Mei plaasgevind het. Hier haal 4 leerders die top-tien lys van redenaars in die Wes-Kaap streek in hul afsonderlike kategorië. Mihan van Zyl (Graad 11) het egter die beste presteer. Hy wen die senior afdeling (Graad 10-12)  in onvoorbereide redenaars in die Wes-Kaap.Mihan gaan toe voort en word aangewys as die derde beste onvoorbereide redenaar in Suid-Afrika by die nasionale finaal te Buffelspoort buite Rustenburg.

Die Oppie Tong Af redenaarskompetisie het ook vroeër in die jaar plaasgevind. Dit was Paul Roos se eerste deelname aan hierdie kompetisie. Dit het die Paul Roosers egter nie gekeer om uitstekend te presteer nie. Al die sprekers behaal ‘n B-simbool en hoër met talle A+ en A++ simbole. Pellat Smith (Graad 9) en Mihan van Zyl wen beide hul kategorieë en verteenwoordig die Wes-Kaap in Oktober by die landsfinaal in Johannesburg. Mihan behaal ‘n tweede plek in die onvoorbereide redenaars en Pellat ‘n tweede plek in die voorbereide afdeling.

Twee Senior en een Junior span het deelgneem aan die WOW Woordfees debatkompetisie waar die span bestaande uit Jacques Botma, Alex Aldrich en Mihan van Zyl tot die Semifinaal deurgedring het.

Die debatspanne het ook baie goed presteer. Die jaarlikse Dink-of-Sink onvoorbereide debatskompetisie het in Mei by Hoërskool DF Malan plaasgevind. Drie spanne het deelgeneem, met die span van Jacques Botma, Alex Aldrich en Mihan van Zyl wat as wenners van die senior afdeling (Gr 10 – 12) uit die stryd tree. Hulle verteenwoordig die Wes-Kaap in Oktober by die landsfinaal te Pretoria waar hul teenstanders verlede jaar se wenners, die Hoërskool Nelspruit, en die wenners van die Sentrale provinsies, die Hoërskool Noordkaap, was. Die moeilike onderwerp in die finaal was “’n Verhoging in die olieprys sal lei tot groter ekologiese volhoubaarheid.” Paul Roos het geopponeer, wat die moeiliker kant van die onderwerp was, maar het die knoop deurgehaak en is ongetwyfeld die Suid-Afrikaanse senior debatkampioene! Elkeen het buiten die wisseltrofee ’n persoonlike trofee en sertifikaat ontvang, asook ’n R1000-geskenkbewys. Die grootste prys is ’n studiebeurs vir ’n behoeftige leerder van Paul Roos Gimnasium om volgende jaar by Akademia te studeer.

Dink of sink: Jacques Botma, Alex Aldrich en Mihan van Zyl

Verder het 2 junior- en 4 senior spanne Paul Roos by die eerste ronde van die ATKV voorbereide debatskompetisie in Wellington verteenwoordig. Twee senior-spanne het deurgedring na die semi-finaal wat in Mei plaasgevind het. Die matriekspan van Alex Aldrich en Thys Sutherland eindig vierde terwyl Jacques Botma en Mihan van Zyl (beide Graad 11) aangewys word as wenners in die Wes-Kaap. By die Nasionale finaal in Augustus te Buffelspoort, word hierdie twee graad 11s  met ‘n klinkende oorwinning oor die gedugte AFFIES, aangewys as die beste voorbereide senior debatspan in Suid-Afrika. Mihan word ook aangewys as die beste individuele taalgebruiker en die beste individuele senior debatteerder in Suid-Afrika.

Saterdag 20 Oktober verteenwoordig Jacques Botma, Alex Aldrich en Mihan van Zyl as senior span die Wes-Kaap by die nasionale finaal van die Afriforum-geborgde Dink-of-Sink-debatkompetisie in Pretoria. Hul teenstanders was verlede jaar se wenners, die Hoërskool Nelspruit, en die wenners van die Sentrale provinsies, die Hoërskool Noordkaap. Meer as 300 spanne het landwyd aan die kompetisie deelgeneem. Die moeilike onderwerp in die finaal was “’n Verhoging in die olieprys sal lei tot groter ekologiese volhoubaarheid.” Paul Roos het geopponeer, wat die moeiliker kant van die onderwerp was, maar het die knoop deurgehaak en is ongetwyfeld die Suid-Afrikaanse senior debatkampioene!

Elkeen het buiten die wisseltrofee ’n persoonlike trofee en sertifikaat ontvang, asook ’n R1000-geskenkbewys. Die grootste prys is ’n studiebeurs vir ’n behoeftige leerder van Paul Roos Gimnasium om volgende jaar by Akademia te studeer.

Met Paul Roos Debat en Redenaars se nuwe komitee vir 2019 bestaanste uit Mihan van Zyl as voorsitter en Jacques Botma, Jean du Plessis en Ruan Hanekom as komitee lyk dit as of 2019 weer ‘n goeie oesjaar kan wees vir redenaars en debat. Die veelsydige Paul Roos Gimnasium het met hierdie resultate weereens bewys dat dit ook op kultuurgebied ‘n top skool is. Met groot belangstelling onder junior leerders lyk die toekoms van debat en redenaars by Paul Roos beslis rooskleurig.

-Jacques Botma en Mihan van Zyl-