Algemene Nuus / General News

Goethe-Pasch-beurswenners 2020: Cleo Diamond en Luca Reuter

Toe die huidige Duitse staatspresident, Frank-Walter Steinmeier nog die Duitse Minister van Buitelandse Sake was, het hy in 2008 die internasionale projek “Schulen: Partner der Zukunft” (kortliks PASCH) gestig. Alle Duitse skole in die buiteland is outomaties deel van hierdie akademiese netwerk. Dan is daar ook sekere skole wat Duits as Tweede Addisionele Taal/Vreemde Taal aanbied wat deur ‘n aansoekproses moes gaan om deel van hierdie uitsoekgroep te kon word.

Paul Roos Gimnasium was een van vier gelukkige skole in Suid Afrika wat as spesiale Goethe-Pasch-skole geoormerk is. Ons het ‘n borgskap wat sorg vir splinternuwe ingevoerde handboeke van grade 8 tot 12, skootrekenaars en tablette vir die Duitse klas, ‘n interaktiewe Smartboard en ander moderne onderrigmateriaal… Een van die voordele is dat PRG elke jaar twee Duitse kandidate kan stuur om ‘n 3-week lange taalkursus in Duitsland te gaan doen. Alles word betaal, die manne kry selfs sakgeld! Die waarde van die beurse word op ongeveer R60 000 per persoon geskat.

Cleo Diamond en Luca Reuter was die gelukkige wenners van die 2020 beurse en sou nou in Dresden die kursus gedoen het, maar toe gebeur Covid…..Om aan hulle darem tog die voordeel van ‘n gevorderde taalkursus te kan bied, word die kursus aanlyn per Zoom aangebied. Die teleurstelling is groot, maar die manne werk hard en gemotiveerd wanneer hulle elke dag van 11 tot 13h in die rekenaarsentrum hulle kursus doen. En op hierdie manier kan hulle darem ook nog klas bywoon en op datum bly met hulle ander huiswerk. Ons is trots op hierdie die twee manne wat hulle teleurstelling met harde werk oorkom.