Algemene Nuus / General News

Huldeblyk aan Werner van Rensburg

Huldeblyk aan Werner van Rensburg

Die rektor van Paul Roos Gimnasium, André van Staden, spreek hiermee namens die skool en gemeenskap sy innige meegevoel teenoor die eggenote, kinders en familie van mnr. Werner van Rensburg, Adjunkrektor: Akademie (1990 – 2020) wat op 30 Desember 2020 in die ouderdom van 57 aan Covid-19 oorlede is. “Woorde blyk onvoldoende om die hartseer oor te dra dat ons geliefde Werner nou in die hemel is. Ons harte gaan uit na sy vriende en familie in hierdie ontsettende moeilike tyd. Ons eer God vir Werner se lewe op aarde en die manier waarop hy ons almal se lewe aangeraak het.”

Hy laat sy vrou, Sandra, en twee kinders agter.

Huldeblyke van sy kollegas en oud-leerlinge is ’n eerbetoning van die tipe mens wat hy was. “Werner was `n ware heer met `n hart vir mense en vir God. Hy het sy geloof ten volle uitgeleef en daardeur baie mense se lewens aangeraak. Ek sal ons grappies, voet `taps’ en dink in prentjies baie mis. Werner laat `n groot leemte, hy was ’n mentor, ‘n vriend, ‘n konfidant, ‘n klankbord, ‘n medegelowige. Hy het met almal van ons aanklank gevind. Hy het elkeen altyd gewaardeerd laat voel. ‘n Ware leier en ’n onderwyser duisend. Hy het probleme en uitdagings biddend benader en naby sy God gelewe.”

Volgens Paul Roos Gimnasium se hoofseun van 2020, Luke Burger, was mnr. Van Rensburg “ ‘n man wat die waardes en tradisies van Paul Roos uitgeleef het veral die van ‘gentlemanship’.”

Hierdie liefhebber van die lewe, sy vrou en kinders, Emwee en Anieka, die viswaters, motorfietse, sy hond en soveel meer, word geprys vir sy dapperheid dat hy sy pligte by die skool getrou nagekom het met die wete dat hy daagliks aan die virus blootgestel is.