Koor / Choir

Lourensford koorkonsert

Lourensford koorkonsert

Die PRG koor van 2018 het hulle koorjaar op ’n hoë noot afgesluit toe hulle op 25 en 26 Augustus saam met die kore van Rhenish Girls‘ High en die Hoërskool Parel Vallei, ’n asemrowende uitvoering in die Lourensford Wynkelder gelewer het.

Dié massakoor van ongeveer 200 sangers is genooi om deel te vorm van ’n konsert wat deur die Stellenbosse Stadsorkes aangebied is, naamlik “Music from the Movies”.

Stellenbosch se indrukwekkende simfonieorkes het ’n genotvolle aand verseker toe hulle ’n vermaaklike program aangebied het. Die program het bekende musiek soos die tema uit “The Pink Panther” ingesluit. Die konsert het geopen met die tema uit “2001 – A Space Odyssey” uit die klassieke komponis, Richard Strauss se toondig Also Sprach Zarathustra, gevolg deur Samuel Barber se Adagio (uit onder andere die fliek, Platoon).

Die kore het twee keer hulle verskyning gemaak. Hulle het die orkes gekomplementeer in “Prince of Egypt” en in “Sogno di volare” uit die videospeletjie, Civilisation VI.

Die dirigent van die Stellenbosse Stadsorkes, Paul Loeb van Zuilenburg, was hoogs beïndruk met almal se samewerking, asook met die gesamentlike harmonieuse klank wat die kore opgetower het.