Kultuur / Culture

MAD-WEEK 2018

MAD-WEEK 2018

Die begin van die Somerweer kon die afgelope week met ʼn hoë noot afskop soos die Graad 8’s die Japie Krige in ʼn fliekteater, musiektent en kunsgalery verander het. Die nuut-verkose MAD-komitee, onder leiding van Mnr. Reghardt de Beer, kon verseker dat doodgewone Skeppende Kunste skooltake nuwe hoogtes bereik deur die geleentheid aan te gryp om hierdie fatsoenlike kreatiwiteit aan die res van Paul Roos ten toon te stel. Sodoende kon die MAD-week ʼn platform bied waarop die drama-, musiek- en kunsleerders hul passies kon uitleef, bepunt word vir hul werk – en in die proses ook die belangstelling van verskeie aanhangers uit die gehoor prikkel.

Die eerste aand, Dinsdag die 16de Oktober, kon almal hul oë rig op die groot-skerm soos die top tien Graad 8 Skeppende Kunste-leerders se skouspelagtige rolprente die verhoog verhelder het, terwyl ʼn ander gedeelte van die leerders ʼn uitdagende musiekuitvoering moes behartig deur hul klanke te sinkroniseer met kort, klanklose video-snitte op die skerm. Na afloop van al die drama-kaskenades, het die groep van die boks-film, Rookie, as die onbestrede wenners van die aand weggeloop. Verder was Springmielies, spookasem en snoepiegeld volop en saam met die vurige energie wat deur die Japie Krige heelaand gedruis het, kon die MAD-span trots wees op ʼn suksesvolle aand.

Gedurende die tweede aand op 17 Oktober, het die Graad 8 en 9 musiekleerders skitterende uitvoerings volbring. Met die diversiteit van die musiektalent, het marimbas, kitare, klaviere en tenoorstemme vloeiende en klankryke harmonieë geskep wat die gehoor sprakeloos gelaat het.

Die hooffokus van die derde dag van 18 Oktober, was die uitstalling van modieuse en praktiese kledingstukke wat uit herwonne materiaal en alledaagse items ontwerp en tot gestalte gebring is deur die Gr. 8 Kunsleerders. In tussen het baie leerders ook die waarde agter herwinning besef en het verbaas die potensiaal wat hulle onderskeie materiale en voorwerpe gehad het, agtergekom. Die beoordelaar Elizabeth Galloway van Elizabeth Galloway Fashion School was hoogsbeïndruk met die ontwerpe en het Damian Butler aangewys as die wenner.

Ten slotte was die MAD-Week vir baie leerders ʼn manier om van die eksamen-stres te vervang met ʼn helder glimlag – al was dit net vir 3 dae lank. Die MAD-span kon vir die skool slegs ʼn voorsmakie gee vir die kultuurbedrywighede wat beplan word, maar is nietemin voorwaar in hul skik met die afloop van hul eerste inisiatief.

– Christiaan van der Walt-