Koor / Choir

Nasionale ATKV Applous-kompetisie – beste seunskoor

Die koor van Paul Roos Gimnasium is die afgelope naweek by die Nasionale ATKV Applous-kompetisie in Bloemfontein aangewys as die beste seunskoor in die land. Hulle het vir Pretoria Boy’s High School en vir die Hoër Jongenskool, Paarl gaan wys presies wáár die Suid-Afrikaanse koortradisie éintlik vandaan kom.

Die 88 manne in maroen staan onder leiding van mnre. Stephan Bezuidenhout (dirigent) en Cezarre Strydom (begeleier). Hulle het die gehoor alreeds met hulle eerste lied, O sing to the Lord, aan hulle voete gehad en teen die einde van hul optrede die beoordelaars én die gehoor met ’n bruisende vertolking van Sivela Kwazulu óp hulle voete gedwing.