Algemene Nuus / General News

Paul Roos Gimnasium kry groenkrag en eie water

‘n Nuwe sonkragstelsel en gesuiwerde water uit sy eie boorgat gaan Paul Roos Gimnasium op Stellenbosch help om meer selfvoorsienend te wees en geld te spaar.

Hierdie inisiatiewe is deel van die skool se toekomsplanne om op bedryfskoste te spaar en beskikbare geld aan te wend vir voortreflike onderrig en vormende kernaktiwiteite soos sport, kultuur en gemeenskapswerk. Volgens die rektor van Paul Roos Gimnasium, André van Staden, streef die skool na ‘n groen, volhoubare praktyk om die koolstofvoetspoor drasties te verminder.

Die sonkragstelsel is reeds voltooi en getoets en word daar net vir finale goedkeuring van die Stellenbosch munisipaliteit gewag.

Elektriese energie sal teen ongeveer 15% minder as die verwagte munisipale tarief gelewer word. Die stelsel, ter waarde van R3 miljoen, vorm deel van ‘n kragkoop-ooreenkoms waar slegs betaal word vir die krag wat die stelsel lewer, teen ‘n  tarief van ±15% goedkoper as die huidige koste. Die stelsel bestaan uit 678 sonpanele met ‘n kapasiteit van 240kWp (kilowatt-piek) en bied `n  bykomende voordeel van onderdakparkering. Die impak op CO2 emissies wat hierdie stelsel bied, is gelykstaande aan die plant van ’n 1000 bome.

Energy Partners, ’n filiaalmaatskappy van die PSG-groep, lewer volgens ‘n koopooreenkoms krag aan die skool en sal die tarief jaarliks met slegs 6% styg. Volgens mnr. Manie de Waal, hoof van Energy Parters Solar, is hulle  trots daarop om die hernubare energieprojek vir Paul Roos ’n realiteit te kan maak en om hopelik die volgende generasie te inspireer.

Die waterprojek, gedeeltelik befonds deur ‘n skenking van die HET JAN MARAIS NATIONALE FONDS, word ook  in samewerking met Energy Partners gedoen.

Die stelsel sal daagliks ongeveer 50 kubieke meter gesuiwerde water vanuit Paul Roos se bestaande boorgat by die waterpolo-swembad lewer. Dit sal grootliks die skool se munisipale waterverbruik met ‘n beraamde besparing van ongeveer R30,000 per maand vervang. Energy Partners is tans besig met die nodige aansoeke vir watergebruikslisensies om met die stelsel te begin.

Navrae: Karien Winter, kwinter@paulroos.co.za, 082 395 1781