PAUL ROOS GIMNASIUM OPEN DIE JOHAN J FERREIRA HOЁ PRESTASIE SENTRUM
Op 26 September het Paul Roos Gimnasium die nuut-opgegradeerde Johan J Ferreira Hoë Prestasie Sentrum offisieël geopen. Beleggers, projekbestuurders, argitekte, potensiële vennote en gemeenskapsrolspelers is uitgenooi om die nuwe gymnasium onder oë te neem. Ten tyde van die geleentheid is gaste ingelig oor Paul Roos Gimnasium se Meesterplan (wat die Johan J Ferreira Hoë Prestasie Sentrum insluit). Daar is ook uitgebrei oor die unieke Performance Development Pathway Programme – wat juis binne dié Sentrum in werking gestel word. Sentrumbestuurder, sportswetenskaplike en kondisioneringsafrigter, Elric Pretorius, het verduidelik hoe hierdie holistiese program al 1300 leerders by Paul Roos Gimnasium baat en bydra tot hul algehele fiksheid en fisiese ontwikkeling. Mnr Pretorius het ook verduidelik hoe verder gespesialisseerde afrigting binne die Johan J Ferreira Hoë Prestasie Sentrum jong sportmanne en atlete sal bemagtig om optimaal te ontwikkel in hul onderskeie sportvelde. Die oorspronklike Johan Ferreira Gimnasium was befonds deur die ontslape Johan J Ferreira. Die geleentheid is ook gebruik om eer te betoon aan Mnr Ferreira wat die fondasie vir hierdie projek soveel jare gelede reeds gelê het. Mev Ferreira, haar seuns en hul eggenote het die geleentheid as eregaste bygewoon.