Algemene Nuus / General News

Paul Roos musikante oppad na New York

Paul Roos is trots op twee van sy leerders wat uitgenooi is om in September vanjaar op te tree by die gesogte DiMenna Sentrum vir Klassieke Musiek te New York.

Hermanus Schmidt (gr. 9) en Kalu Ueckermann (gr. 11) word afgerig deur dr. Ronella van Rensburg by die Score2Duo Musiekateljee. Hermanus het homself tydens die inperking leer klavier speel en het intussen klassieke én kontemporêre musiek, veral filmmusiek, begin bestudeer.

Kalu Ueckermann het al verskeie musiektoekennings losgeslaan. Dié twee leerders gaan saam met Chadley Leith (Calling Academy) aan die “Prizewinners’ Recital” deelneem.

Op 19 en 20 Mei het dié leerders saam met verskeie ander opkomende musikante by die Drostdy Teater in Stellenbosch opgetree. Hierdie konsert het as fondsinsameling vir die talentvolle musikante se reiskostes gedien. Ons wens Kalu, Hermanus en Chadley alle sterkte toe met hulle voorbereidings vir die groot geleentheid in Amerika.