Kultuur / Culture

PRG O/15 Tennisspan wen Boland Landbou Tennistoernooi vir die 2de jaar in ‘n ry

Van L na R agter:  Sebastiano Sola, Morkel van der Westhuizen, Stephen Claassen, Ruan Liebenberg en Swannie Swanepoel (Afrigter) Van L na R voor: Max Kleber, Jake Downie en Justin Cowley

Die O/15 Tennisspan van Paul Roos het skoonskip gemaak by die Boland Landbou Tennistoernooi wat die afgelope naweek in die Paarl plaasgevind het. Die PRG span het kookwater tennis gespeel en was onoorwonne oor die twee dae se tennis nadat hulle Paarl Boishaai (HJS) in die finaal met 5 – 1 geklop het.

Die span wat vir die 2de keer aan die toernooi deelgeneem het, is aangevoer deur Stephen Claassen op die nommer 1 posisie. Die lede van die wenspan was Stephen Claassen, Sebastiano Sola, Max Kleber, Morkel van der Westhuizen, Ruan Liebenberg, Justin Cowley en Jake Downie.

Die ander deelnemende skole was Oakdale, Paarl Gimnasium, Parel Vallei, Hugenote, Paarl Boishaai (HJS), Menlopark, Marlow, Charlie Hofmeyer en Boland Landbou.

Paul Roos en Paarl Boishaai was onoorwonne in hul onderskeie groepe en het mekaar in die finaal aangevat. Die seuns van Stellenbosch het egter deurgans goeie tennis gespeel en die finaal met 5 – 1 gewen. Elke wedstryd was taai, maar die manne van Paul Roos het goed kopgehou en met gedissiplineerde tennis, punt vir punt gespeel en sodoende die uitslag in hul guns beklink.

Die ander uitslae van die span is as volg:

Paul Roos wen Marlow: 9 – 0
Paul Roos wen Paarl Gim: 9 – 0
Paul Roos wen Parel Vallei: 9 – 0
Paul Roos wen Hugenote: 8 – 1
Paul Roos wen Paarl Boishaai: 5 – 1 (Finaal)

Die finale uitslae aan die einde van die toernooi is as volg:

  1. Paul Roos
  2. Paarl Boishaai
  3. Oakdale
  4. Paarl Gim
  5. Menlopark
  6. Hugenote
  7. Boland Landbou
  8. Parel Vallei
  9. Charlie Hofmeyer
  10. Marlow