Sokker / Football

PRG se Hoof van Sokker word aangekondig

Foto van links na regs: Luan van der Vyver (PRG-sokker Eerstespanbestuurder), Edmund Pietersen (PRG Hoof van Sokker), Cobus de Beer (oorhandigende / voormalige PRG-sokkerbestuurder). Fotokrediet: Jacques Vermooten

Die rektor van Paul Roos Gimnasium, mnr André van Staden en voorsitter van die beheerliggaam, mnr. Roelou Slabbert, verwelkom die aanstelling van mnr Edmund Pietersen as die skool se eerste Hoof van Sokker by Paul Roos Gimnasium.

Edmund is al sedert 2016 op ‘n deeltyde basis betrokke as afrigter aanvanklik van die o/14-span en vanaf 2016 het hy die o/19 A-span afgerig.

Die bekendmaking gaan gepaard met die betrokkenheid van Raats Family Vineyards en MveMve Raats as hoofborg van sokker. Volgens die eienaars, Bruwer Raats en Mzo Mvemve, is die twee handelsmerke sedert 2014 deel van PRG-sokker en is dit ‘n voorreg om die langtermynverhouding tot die volgende vlak te sien ontwikkel – veral in hierdie opwindende fase wat PRG-sokker betree.

Edmund het in Cloetesville grootgeword en is `n oudskolier van Cloetesville Hoërskool, waar hy in graad 9 Boland en Wes-Kaap kleure ontvang het en in 2002 die eerste SA-skole sokkerspeler van die skool geword het.

Die voormalige Bafanaspeler, wyle Reginald Jantjes, het Edmund se potensiaal vroeg reeds raakgesien en hom genader om na skool in 2003 vir die UWK Sokkerakademie te speel. Tydens ‘n proefwedstryde vir AJAX, het internasionale talensoekers die kranige sokkerspeler genader en in 2005 verhuis hy na Amerika waar hy ’n studiebeurs kry om by Collegiate, Afdeling 1 vir Tiler Junior College te speel. Na ongeveer 4-jaar speel Edmund vir FC Dallas, een van die groot sokkerklubs in Amerika.

“My droom om teen die bestes sokkerspelers in die wêreld te speel het gouer gekom as wat ek verewag het. Ek het besef dat as ek op daardie vlak wil deel neem, dit intense toewyding en harde werk sal verg. Dit het vrugte afgewerp en die hoogtepunt, soos seker vir enige plaaslike seun, was die blootstelling in Amerika waar ek op meer as een geleentheid die kans gegun is om teen David Beckham te speel. Beckham versinnebeeld die woord `sokkerinteligensie’ – sy talent en werksetiek het my ongelooflik gemotiveer om my beste te gee.”

Ongelukkig het ‘n liesbesering veroorsaak dat Edmund moes terugkeer na Suid-Afrika. Terug op plaaslike bodem het hy vir verskeie klubs gespeel en ook as kaptein opgetree waar Melano United, onder Edmund se leiding, die eerste divisie betree het.

Nadat Steenberg United vir die derde keer die tweede divisie wen en opgetrek word na die na die eerste divisie, word hy assistentafrigter vir die 2020/21-seisoen.

Volgens Edmund is PRG-sokker sy “baba” en dit is wonderlik om deel van die span te wees en te kon ervaar hoe sokker sedert 2014 by die skool ontwikkel het. Wat PRG se sokkerkultuur in ‘n ander liga plaas, is dat dit werklik gaan oor die persoon as ‘n geheel en nie net oor die atleet nie. Daar word op gereelde basis gekonsulteer met spelers om te bepaal hoe dit met hulle gaan en hulle akademiese prestasie is van kardinale belang. Waar nodig sal die afrigtingspan uit hul pad gaan om ekstra klasse te reël vir leerders wat hulp benodig – soos met die onlangse eksamen waar ‘n oudskolier en voormalige eerstespansokkerspeler een van die huidige spelers bygestaan het.

PRG se sokkerspanne bestaan onderskeidelik uit twee o/15-, o/17- en o/19-spanne, 6 afrigters en 3 spanbestuurders. Volgens Luan van der Vyver, die eerstespanbestuurder, mik PRG-sokker om te groei, nie net in getalle nie, maar ook in kwaliteit van spelers en afrigters.

PRG se sokker het oor die afgelope jare van krag tot krag gegaan. PRG het Grey Kollege vir drie agtereenvolgende jare gewen, die aantal sokkerspanne het verdubbel, selfs Covid kon nie die span se gees demp nie en Zoom opleiding- en fiksheidsessies het verseker dat die spelers in goeie vorm gebly het. PRG se Hagan Cupido en Connor De Vries is onderskeidelik vir die Stellenbosch FC-reserwespanne opgeroep en PRG se eerstespan het in 2021 tot die streekseindstryd van die Kay Motsepe-beker deurgedring. Vyf van PRG se spelers het hierdie jaar die gesogte FC Kaapstadbeker met Stellenbosch FC, ingesluit Connor de Vries, Cade Gordon, Joshua Bailey, Tyler Cicero en Joshua Gerber gewen.

Daar is opwindende nuwe projekte en programme vir PRG sokker in 2022, soos die junior sokkerakademie vir oudersdomsgroepe o/7, o/9, o/11 en o/13 seuns en mesies. Die akademie word by Paul Roos in die eerste kwartaal vanaf volgende jaar aangebied. Vir meer inligting kontak epietersen@paulroos.co.za.

Die moontlike insluit van sokker in volgende jaar se Wildeklawertoernooi  dien as verdere motivering vir die spelers om met toewyding hulle voorseisoenoefenskedule nougeset na te volg. Daar is dan ook planne vir PRG om gasheer te speel vir ‘n toernooi en selfs dalk in die nabye toekoms geleentheid te skep vir spelers om internasionaal mee te ding.