Kultuur / Culture

PRG Toneel-aand 31 Julie 2019

Kom geniet ’n lieflike aand met PRG-Toneel: twee produksies vir die prys van een.  Net R100 per persoon, en sluit in lekker tuisgemaakte sop en brood.

Datum: 31 Julie 2019
Tyd 19:00
Kaartjies beskikbaar by Kamer 14
Kontantkroeg.

Hadedas drink nie Coke nie

“Dit het alles begin toe die proefjuffrou – per ongeluk – ’n hadeda dood gereverse het…”

Só lei Wouter en Nelus die storie in, waardeur hulle die oorsaak van ’n bakleiery by ’n amateur-rugbywedstryd verklaar. Wouter en Nelus is die hoofkarakters in die tweemankomedie Hadedas drink nie Coke nie. Die een akteur vertel die verhaal van hoe ’n vriendskap ontstaan tussen twee eksentrieke seuns wat hoërskool uitdagend vind, elkeen vanweë sy eie nukke, fobies en sosiale blindekolle.

Wouter ly aan ’n ernstige te kort aan adrenalien en is erg verstrooid en Nelus, daarenteen, is ’n senuwrak. Beide is bleeksiele en blykbaar die produk van nalatige, maar welwillende enkelouers. Wanneer Nelus en Wouter deur meneer Griesel beveel word om die hadeda-karkas in die ekokomitee se komposhoop te begrawe, gebeur iets misterieus en hulle word gedryf tot ’n “misdaad” wat hulle al hoe dieper in die moeilikheid bring soos die storie ontvou.

Die twee karakters word vertolk deur Stehan Odendaal (graad 12) en Ronin Nel (graad 11).

Die teks vir Hadedas drink nie Coke nie is geskep deur middel van ’n werkswinkelproses wat improvisasie en kreatiewe skryfbydraes van die regisseur,Danie Stander en die twee spelers behels het. Die tegniese versorging word deur Jordan Cridland.

 

Want ek het jou gemaak

Andries word teen sy wil aangehou deur die psigopaat, Heil, wat volle beheer oor hom uitoefen. Op ’n dag vind nuwe intrekkers hulle langs die gruwelhuis en die jong seun maak maats met die seun, Andries. Stelselmatig ontrafel die leuen en begin die waarheid deursyfer.

Die titel Ek het jou gemaak is ’n intertekstuele verwysing na Jan Rabie se kortverhaal met dieselfde naam. Dit sinspeel ook op die effek wat die versorger, in hierdie geval Heil se neurotiese pa, op die afhanklike (Heil) het en hy weer uiteindelik op Andries sal hê as die status quo nie gebreek word nie.

Die teks is geskryf deur Esther Von Waltsleben vir Paul Roos Gimnasium se toneelgroep wat dit vanjaar onder regie van Jan-Hendrik Opperman planke toe bring.  PG13