Skool Argief / School Archive

Die argief is op 28 Februarie 1997 amptelik ingewy deur dr. Gideon Roos (Matriek 1925).

Gideon Roos was een van die legendariese Paul Roos se seuns en, indien ‘n mens na ‘n paar van sy klasmaats se name kyk, besef ‘n mens dat die grootsheid van ‘n skool ook gemeet kan word aan die mense wat hy opgelewer het. Die 1925-klas het mense soos dr. Gawie Cillie, T.O. Honiball (die bekende spotprenttekenaar), dr. F R Tomlinson (van die 1948-Tomlinson-verslag-faam), Phil Morkel (stigter van Morkels), Bill Winshaw (stigterslid van Stellenbosch Boerewynmakery) ingesluit, om maar enkeles te noem.

So is daar ook vyf lede uit die 1932-klas wat staatspresidentstoekennings vir voortreflike diens ontvang het. Uit hierdie 1932-klas, was daar drie leerders onder die eerste tien in Kaapland, naamlik Piet Cillie, Dawie Lurie en Jacques Kriel.

Sover bekend was die eerste merietelys-kandidaat Jan Christiaan Smuts, die latere eerste minister, wat in 1888 die 5de plek behaal het. Ander oud-skoliere wat hierdie amp beklee het, was JBM Hertzog en DF Malan. Die ruit waarop Smuts as ondeunde skoolseun sy naam uitgekrap het, word in die argief bewaar.

Die uiteindelike ideaal is om inligting van alle oudskoliere te bekom en in die argief te bewaar sodat dit beskikbaar is vir navorsing. In 2002 het daar bv. vier boeke oor oudskoliere verskyn. Uys Krige, Piet Cillie, Schalk Pienaar en T.O. Honiball. Die argief van PRG het dus ook ‘n navorsingsentrum geword vir navorsers en huidige leerders.

Skrywers wat die skool opgelewer het sluit onder andere in Gideon Joubert (Die Groot Gedagte), Etienne van Heerden, Ronnie Belcher, Uys Krige, Koos Kombuis, Tom Dreyer, Alsoon Wessels en Albert Lintveldt. Bekende akteurs wat hier was, is Nic de Jager, Marcel van Heerden, Danie Smuts, Francois Toerien en Louis van Niekerk.

Benewens die eerste Idols-wenner, Heinz Winckler, was ander presteerders op musiekgebiek: Arnold van Wyk en Stephen Eyssen (komponiste), Albie Louw (pianis), Oliver en Stephen de Groot, Jurgen Schwietering (violis) en operasanger Henry Lankester (Matriek 1969 – tans in Duitsland) en meer onlangs Pieter Tredoux wat tans in Phantom of the Opera sing.

Op sportgebied is daar reeds 57 rugby springbokke. Dit is die meeste rugby springbokke wat enige skool nog opgelewer het. Navorsing word steeds gedoen oor die tydperk 1903 tot 1930. Dit is moontlik dat gedurende hierdie periode nog ‘n paar springbokke hul tyd in Paul Roos deurgebring het.

Daar is tans 57 springbokke in ander sportsoorte bekend. Daar was ook ses ridderskappe soos o.a. Sir John Field (Matriek 1930), Sir Christiaan Felling (1895) en Sir Ralph Murnham wat ‘n gedeelte van sy skoolloopbaan hier deurgebring het en ‘n geneesheer van die Britse koninklike familie was.

Hierdie skool het dus op elke denkbare gebied van die samelewing ‘n bydrae gelewer.

Die argief se funksie is dus om:

  • Die skool se erfenis en geskiedenis te bewaar
  • Inligting en argiefmateriaal in te samel
  • Hierdie inligting te dokumenteer
  • Uitstallings van die inligting te maak
  • Navorsing te doen en inligting te versprei
  • Leerders betrokke by geskiedenis te kry

Besoekers is welkom om ‘n toer deur die argief aan te vra. Enige navrae kan gerig word aan Mariena Kotze (argivaris). Kontak haar by 021 887 0017 of argief@prg.wcape.school.za

Miskien is die uiteindelike doel ook om almal wat betrokke is bewus te maak van die feit dat elkeen ‘n rol in die geskiedenis van hierdie skool en land het.

“We toil not for school or for life, but for eternity”