ATKV-NUUS: Paul Roos vaar goed op die kulturele front
PRG Forum (die praatkunste) het hul Afrikaanse debat- en redenaarspanne vir ATKV se redenaars- en debatkompetisie ingeskryf.
Drie van Paul Roos se senior spanne het deurgedring tot die nasionale finaal wat op die 19de Augustus te Goudini Spa plaasvind. Dié drie spanne bestaan uit Dirk Guelpa, Steffan Thielen, Christiaan van der Merwe, Rossouw van Niekerk, Dirkie Aldrich en Altus du Plessis.
Sewe redenaars het in die semifinaal van ATKV se redenaarskompetisie meegeding. Steffan Thielen (ook in die PRG-debatspan) beklee die eerste plek in die Wes-Kaap in die Senior Huistaal onvoorbereide-kategorie. Waldo van Zyl beklee die tweede plek in die Wes-Kaap in die Senior Eerste Addisionele Taal voorbereide-kategorie. Beide leerders het deurgedring na die nasionale ronde wat in Augustus plaasvind. Alhoewel Stef de Villiers, Christiaan Fouché en Julian Pratt nie die finale ronde gehaal het nie, het hulle steeds vyfde (Stef de Villiers), agste (Christiaan Fouché) en tiende (Julian Pratt) plek in hul onderskeie kategorieë in die Wes-Kaap behaal.

PRG Forum | Van links: Christiaan Fouche (gr. 8), Waldo van Zyl (gr. 11), Stef de Villiers (gr. 9), Steffan Thielen (gr. 11), Altus du Plessis (gr. 11), Julian Pratt (Gr. 8) en Ian Lubbe (gr. 10)
Paul Roos se koor het in 2022 as wenners in die Hoërskool Seuns Prestige-afdeling by die 2022 ATKV-Applous (Suid-Afrika se oudste koorkompetisie vir laer- en hoërskole) weggestap. In 2023 het die PRG Koor weer deurgedring na die nasionale finaal en om hul wentitel te verdedig by dié gesogte koorkompetisie.