Algemene Nuus / General News

Augustusmaand ‘n hoogtepunt op PRG se Kalender van Sport en Kultuur

Augustusmaand ‘n hoogtepunt op PRG se Kalender van Sport en Kultuur

Augustusmaand was ‘n goeie maand vir Paul Roos Gimnasium. Die opwindende en langverwagte interskoledinee en -veiling het PRG op 18 Augustus ‘n inkomste van 1 miljoen Rand verseker.  Buiten fondswerwing spog PRG met indrukwekkende sportprestasies en die groot oorwinning (34-19) tydens die rugby- interskole teen Grey Kollege (Bloemfontein) op Saterdag, 20 Augustus. Hierdie hoogtepunt is gevolg met PRG-krieket se T10-veiling wat op Dinsdagaand, 23 Augustus aangebied is. Hier het jong krieketspelers (Graad 8 tot 11), entoesiastiese ouers en plaaslike besighede saamgespan om ‘n opwindende geesbou- en fondsinsamelingsaand ten bate van krieketontwikkeling by PRG aan te bied. Weens die gemeenskap se passie vir krieket, is R350 000 ingesamel wat  aangewend sal word vir die installering van syskerms op PRG se krieketveld. Op 9 en 10 September kompeteer 9 PRG-krieketspanne teen mekaar by die Markötter Sportkompleks en PRG se krieketveld onderskeidelik. Die opwindende kriekettoernooi word met trots deur Cape Umbrellas geborg en dien as aanloop tot ‘n splinternuwe krieketseisoen by PRG.

Die sukses van die Atterbury-PRG Musiekfees wat op 24 en 25 Augustus vir die eerste keer sedert 2019 kon plaasvind, getuig van PRG se veelsydigheid en toewyding tot prestasie, nie net op sportgebied nie, maar ook op kulturele gebied. PRG se ATKV-wenkoor 2022, sy sanggroep, sy blaas- en strykorkes, én Graad 10-massakoor het tydens die optrede saam met Coenie de Villiers en Corlea Botha deelgeneem. Ander talentvolle deelnemers vanuit die breër Stellenbosch gemeenskap was “Jamestown Sounds”, “Madelein van Rooyen String Studio”, Rhenish Laerskool en Rhenish Girls’ High se koor- en sanggroepe. ‘n Opwindende toevoeging was die Vrystaatse Jeug-blaasensemble, wat ook spesiale meesterklasse vir PRG musikante aangebied het. Ingrid Howard van die Drostdy Teater was die vervaardiger van die Atterbury-PRG Musiekfees, wat deur `n gehoor van1200 mense en spesiale gaste ondersteun is.

Buiten die bogenoemde hoogtepunte spog Paul Roos ook met die volgende prestasies in Augustusmaand:

  • PRG se o15A-skaakspan wen goud by Topskole Skaak te Wellington.
  • PRG se o18A-skaakspan wen silwer by Topskole Skaak te Wellington.
  • PRG-skaak wen altesaam 8 bordpryse.
  • PRG Forum (die praatkunste) se Steffan Thielen en Mark du Preez neem aan die Provinsiale Moot Court deel, en dring beide deur tot die Nasionale ronde.
  • PRG toneel “SKRUM” verdien ‘n dubbel goue toekenning by die MADD toneelfees in Montagu en neem deel aan die ATKV-tienertoneelkompetisie.
  • PRG toneel “Tienertoneel” verdien ‘n silwer toekenning by die MADD toneelfees in Montagu en neem deel aan die ATKV-tienertoneelkompetisie.
  • PRG debat se Afrikaanse junior- en seniorspanne kompeteer in die finaal van die ATKV-debatskompetisie teen Affies en eindig nasionaal in die tweede- en vierde posisies onderskeidelik.
  • PRG debat se Engelse junior- en seniorspanne kompeteer in die “WesternCape Schools Debating Tournament”. PRG se Reuben de Wit eindig derde en word gekies vir die provinsiale span.