Paul Roos 1ste Tennisspan weer tweede by Kearsney Tennis Festival
Vir die 2de jaar in ‘n ry het die 1ste tennisspan van Paul Roos die afgelope naweek by die Kearsney Tennis Festival naelskraap verloor teen die sterk span van Westville Boys High. Die telling was 5 wedstryde teenoor 2 in die guns van die skool van KwaZulu-Natal.
Die Kearsney Tennis Festival het vanjaar vir die 29ste keer plaasgevind. Met agt skole van regoor Suid-Afrika, is die Festival ‘n gesogte toernooi om aan deel te neem. Die skole was opgedeel in twee groepe, nl. die Sinner groep en die Alcaraz groep. Die skole het in die onderskeie groepe teen mekaar gespeel en dan oorkruis gespeel vir ‘n plek in die finaal.
Paul Roos het daarin geslaag om onoorwonne in hul groep te eindig. In die oorkruis semi-finaal het die Maroen Machine weer met Grey College vir die 2de keer vanjaar afgereken nadat hulle ook in Februarie by die Zest Fruit Gerrie Berner Toernooi koning gekraai het.
Die finaal tussen Paul Roos en Westville het uitstekende tennis opgelewer. Ongelukkig was Westville met die SA O/18-Tenniskampioen op nommer 1 en twee ander matrieks in hul span te goed vir Paul Roos.
Die PRG span se uitslae is as volg:
PRG wen Affies: 8 – 1
PRG wen Rondebosch: 9 – 0
PRG wen Kearsney College: 9 – 0
PRG wen Grey College: 5 – 2 (Semi-finaal)
PRG verloor Westville Boys High: 2 – 5 (Finaal)
Die span van PRG Willem de Waal, Pieter Kotze, Xander Pienaar, Divan Prinsloo, Hanno Bouwer, Sebastian Oosthuizen en Simeon Roothman.
Tydens die prysuitdelingsfunksie is Xander Pienaar as die beste nr 3 speler by die toernooi aangewys.