Paul Roos O/16-A Tennisspan op pad na die Rising Stars finaal in Pretoria
Die Paul Roos O/16A-Tennisspan was die naweek onoorwonne by die provinsiale afdeling van die PNB Rising Stars Tennistoernooi wat deur Tennis Suid-Afrika (TSA) aangebied is. Die span is gekroon die algehele wenners van die Western Cape provinsiale afdeling en het HS Outeniqua in die finaal geklop.
Die toernooi is vanjaar vir die 2de keer aangebied as ‘n poging van Tennis Suid-Afrika (TSA) om die beste seuns en dogters O/16-span in die land te vind. Elke span bestaan slegs uit 4 spelers wat 2 enkel- en 1 dubbelwedstryd moet speel. In 2021 het Paul Roos in die finaal teen St Stithians verloor.
Die Paul Roosspan moes sonder hul nommer 1 speler, Willem de Waal speel, wat vanweë siekte op die nippertjie moes onttrek en is deur Christiaan Cronje vervang. Die ander spanlede was Pieter Kotze, Divan Prinsloo en Xander Pienaar.
HS Outeniqua was die verrassing van die toernooi, want hulle het die sterk span van Paarl Boishaai (HJS) geklop om die finaal te haal. Die Maroen Machine was ongelukkig te sterk vir HS Outeniqua en het die finaal oortuigend met 2 -0 gewen.
Die PRG-span het al hul wedstryde gewen en hul uitslae is as volg:
PRG wen Bredasdorp: 3 – 0
PRG wen Oakdale: 3 – 0
PRG wen Bellville: 2 – 0
PRG wen Outeniqua: 2 – 0
Die oorwinning lei daartoe dat die Paul Roosspan na die Nasionale Finaal in Pretoria in November teen die ander provinsiale wenners sal deelneem.