Sport

Paul Roos Tennisspan is die beste in Suid-Afrika

Die Paul Roos O/16-tennisspan is aangewys as die beste O/16 skole tennisspan in Suid-Afrika deur die BNP Paribas Rising Stars National Finals by Groenkloof in Pretoria te wen. Hierdie is ‘n landswye tennistoernooi aangebied deur Tennis Suid-Afrika en waar die wenner moet deurdring vanaf streeksvlak na provinsiale vlak en dan na die nasionale finaal waar al die provinsiale wenners kragte meet.

Die Paul Roosspan  het bestaan uit die enkelsspelers Willem de Waal en Pieter Kotze, asook die dubbelspaar van Divan Prinsloo en Christiaan Cronje. Die PRG-span was 3de gekeur by die nasionale finaal, maar het uitstekend presteer deur met die 1ste gekeurde Grey College in die semi-finaal af te reken. Daarna het hulle die 2de gekeurde Waterkloof gewen om die titel te verower. Albei wedstryde was baie taai en die Maroen Machine het in beide gevalle met 2 wedstryde teenoor 1 gewen.

In 2022 het die PRG span naelskraap met 1-2 teen St.Stithians verloor. Volgens hulle afrigter, Swannie Swanepoel,  is die rede vir hul konstante sukses, baie dissipline en harde werk oor ‘n baie lang tydperk.