PRG Forum se Afrikaanse Interskole Debatsliga skop in Februarie af
As gevolg van Covid 19, waartydens alle debatskompetisies (ATKV,Dink-of-Sink) sedert 2020 gekanselleer is, het debatsafrigter, Adia van Staden en haar span by PRG Forum, besluit om hul eie Interskole Liga in 2021 te begin. Omdat debat nie ʼn vaardigheid is wat virtueel of aanlyn suksesvol kan plaasvind nie – het skole in die omgewing hierdie geleentheid om deel te neem aangegryp.
Die kompetisie het verlede jaar begin en weer vanjaar op 16 Februarie by Paul Roos afgeskop, waarna dit een keer per maand tot aan die einde van die jaar aangebied sal word. Die eerste kompetisie betrek reeds 84 sprekers van die volgende hoërskole: Meisieskool Bloemhof, Hoër Jongenskool Paarl, Hoërskool DF Malan, Durbanville Hoërskool, Stellenbosch Hoërskool, Parel Vallei Hoërskool en Stellenberg Hoërskool.
Junior en senior spanne wat inskryf, kry die geleentheid om een keer per aand hul toesprake te lewer, en kompeteer uiteindellik teen ‘n verskeidenheid van deelnemende spanne deur die jaar. Die fokus is op onvoorbereide en minder formele debatte en onderwysers tree as beoordelaars op. Leerders ontvang terugvoer na afloop van die aand, die wenspan van elke debat word aangekondig, asook die beste spreker van elke debat. “Leerders se selfvertroue en praatvaardighede ontwikkel ongelooflik deur hul deelname aan dié debatsliga”, meen organiseerder Adia van Staden. “Die PRG Afrikaans Interskole Debatsliga skep meer geleenthede vir debatteerders om gereeld teen mekaar te kompeteer. Voorheen het spanne slegs een keer gepraat as hulle nie na die semi-finale deurgedring het nie. Met behulp van ons eie liga, skep ons ruimte vir verdere ontwikkeling”.
Omdat debat ʼn vaardigheid is wat in elke beroep vereis word, wil PRG hul leerders bevoeg om hul uitgangspunte duidelik en logies te stel, om beleefd met mekaar te kan verskil, en sodoende leerders die gemeenskap in te stuur wat nasiebou in Suid-Afrika bevorder. “Leerders leer om krities te lees en vir hulself opinies te vorm. Ons is dankbaar vir ENSafrica se betrokkenheid as die nuwe offisiële borg van PRG Forum (die praatkunste), en hoop om te leer by mense wat in die praktyk staan deur hulle as mentors in te span”.
Op 16 Februarie het PRG se Junior span (Johan Smuts, Ian Lubbe en Damian de Lange) Parel Vallei in die onderwerp “Beskermende ouers is beter vir die modern kind se ontwikkeling” gewen. Die eerste Seniorspan (Jordan Cridland, Christian Sander en Steffan Thielen) het DF Malan geklop met die onderwerp “Gegradueerdes is belangriker vir die SA-samelewing as ambagte”. DF Malan het PRG se tweede seniorspan (Dirk Guelpa, Waldo Bonthuys en Rossouw van Niekerk) gewen.
Die volgende debatsliga datums:
13 April 17:45 – 19:45
11 Mei 17:45- 19:45
Navrae: avstaden@paulroos.co.za