Sport

Zest Fruit Gerrie Berner Toernooi, 17 – 19 Februarie 2022

Die jaarlikse Zest Fruit Gerrie Berner Toernooi word vanjaar vir die sewentiende keer deur Paul Roos Gimnasium vanaf 17 – 19 Februarie 2022 aangebied.

Paul Roos se eerste tennisspan het oor die jare hul staal gewys deur verlede jaar die titel vir die vierde agtereenvolgende jaar te wen deur Grey College in die finaal met 4 – 0 te verslaan.

Paul Roos word verteenwoordig deur Ernst Gouws, Johan van Wijk, Stephen Claassen, Willem de Waal, Leonardo Sola, Echard de Kock en Jake Downie. Ernst Gouws is nommer een op die Tennis Suid-Afrika 0/18-ranglys.

Paul Roos Gimnasium se nommer een, Ernst Gouws. Fotokrediet: Charmaine Sander Photography

Die skole wat vanjaar gaan deelneem, is Paul Roos Gimnasium, Grey College, Waterkloof, Afrikaanse Hoër Seunskool, Kearsney College, Clifton High, Outeniqua, Oakdale, Hoërskool Stellenbosch, Hoër Jongenskool Paarl, King Edward School en St. Stithians.

Zest Fruit word die afgelope 4 jaar as hoofborg met die bekende Gerrie Berner Toernooi, wat deur Paul Roos Gimnasium aangebied word, geassosieer. Volgens  Freek Dreyer, Besturende Direkteur van Zest Fruit, is hulle jarelange assosiasie met die toernooi gekoppel aan PRG se toewyding tot die ontwikkeling van gehalte tennisspelers. Dit het hulle geïnspireer om die borgskap uit te brei en PRG-tennis as geheel te ondersteun en is hulle geëerd om met PRG-tennis geassosieer te word.

Wedstryde sal gestroom word. Volg al die aksie op die SuperSport Schools toepassing wat gratis afgelaai kan word.

Die amptelike pet-oorhandiging deur die Rektor, Mnr André van Staden aan die 1ste O/19 Seuns Tennisspan.