Algemene Nuus / General News

PRG leerder haal voorbladnuus met sy heldedaad

Ons is baie trots op PRG leerder Gerrit de Vos vir sy aandeel in dié heldedaad. Dankie Gerrit.  Sien die onderstaande skrywe van ene Nicolas Lategan:

Die afgelope vakansie was ek op Jongensfontein, ‘n vakansieplek naby Stilbaai. Op Woensdag 5 Januarie net na 18:00 die aand het ek uit die see gekom en op die gras langs die strand saam met my vrou gesit. Ons het gesien daar is twee jong manne wat in die see deur ‘n stroom meegesleur is, en hulleself op ‘n gevaarlike plek bevind het waar hulle teen die rotse stukkend geslaan gaan word. Vanweë die stroom kon hulle nie weer terugswem na die hoofstrand swempoel toe nie, en dit was duidelik dat hulle vinnig besig was om uitgeput te raak.

Ek het na ‘n groepie jongmense gestap wat op die strand sit en gesels het, en gevra of hulle die swemmers ken wat in die moeilikheid is. Hulle het hulle nie geken nie, maar terwyl ons daaroor gesels, het een van die drenkelinge sy arm gewaai om aan te dui dat hulle hulp nodig het. Die lewensredders het reeds die strand verlaat vir die dag, en was nie beskikbaar nie.

Drie van die jong manne op die strand het summier hulle boogieborde en flippers by hulle tente gaan haal, en sonder om te skroom ingeswem na die twee swemmers wat in die moeilikheid verkeer het. Dit het geimpliseer dat hulle ook die gevaar geloop het om teen die rotse vas te spoel, maar die flippers het hulle darem meer skopkrag gegee.

Die drie hero’s het ‘n ekstra boogiebord en ‘n NSRI boei saam ingeneem tot by die drenkelinge, en hulle help swem om weer teenoor die hoofstrand te kom waar hulle veilig uit die water kon kom. Sonder hulle dapperheid, sou die swemmers wat in die moeilikheid was, verseker verdrink het, of baie seergekry het.

Die drie jong hero’s van die dag is van julle skole afkomstig.

Louis Fourie – Oakdale Landbouskool
Evert Bouwer – Hoërskool Durbanville
Gerrit de Vos – Paul Roos Gimnasium

As ooggetuie en “koördineerder” van die reddingspoging, wil ek julle dus aanmoedig om die nodige en geskikte erkenning aan die drie seuns te gee in julle onderskeie skole asseblief. Hulle het karakter gewys, was al drie baie beskeie na die tyd, en net te dankbaar dat hulle iemand kon help. Dis verseker prysenswaardig.