Hobson Performance Tennis Academy
Agt Paul Roos-tennisspelers is tans saam met hul tennisafrigter, oom Swannie, vir twee weke in Florida, VSA, waar hulle by die Hobson Performance Tennis Academy in Bradenton oefen.
Die spelers wat saam toer, is Zach Jooste (gr. 11), Tristan van der Merwe, Daneel Bester, Christian Oberhofer en Dawid-Wiese Viljoen (gr. 10), asook Ruben Smit, Rocco Noades en Liyema Mancoba (gr. 9).
Hulle kry die geleentheid om saam met topspelers van regoor die wêreld te oefen en ook om op kleibane te speel.Die span het verlede naweek aan die Battle of Boca UTR-toernooi by die Rick Macci Tennis Academy deelgeneem waar meer as 200 spelers, meestal universiteitstennisspelers, meegeding het. Tristan van der Merwe het die beste gevaar deur die eindstryd van die Back Draw te haal waar hy uiteindelik teen ’n Chileense NCAA Divisie I-universiteitspeler vasgeval het.
Hierdie naweek neem die spelers aan hul tweede UTR-toernooi deel.
Ná hierdie toer keer leerders nie net met nuwe tennisvaardighede huis toe nie, maar ook met meer selfvertroue en blywende herinneringe.






























