Algemene Nuus / General News

Societas kry gravitas: Paul Roosers en leerders van Kayamandi vat hande met die loods van ‘The river that binds us’ projek

21 September 2023 was ‘n spesiale dag vir Paul Roos Gimnasium (PRG) se uitreikorganisasie, Societas. Societas bestaan uit ‘n groep altruïstiese leerders wat hul tyd en vaardighede inspan om ‘n verskil in hul gemeenskap te maak. In 2023 het PRG hande geneem met Investec. ‘n Splinternuwe verhouding tussen Investec en Paul Roos Gimnasium maak dit vir Societas-leerders moontlik om uit te bou op bestaande projekte, maar ook om nuwe projekte van stapel te stuur en sodoende ‘n groter impak op die gemeenskap te hê.

Op 21 September het Societas juis met ‘n opwindende nuwe inisiatief begin. “The River That Binds Us” is ‘n uitvloeisel van PRG se jarelange toewyding aan die Eersterivier. Paul Roosers is bekend vir hul samewerking met die Stellenbosch Trail Fund in terme van die skoonmaak van die rivierbanke én die plant van inheemse bome.  “The River That Binds Us” plaas fokus op die impak wat diverse gemeenskappe met verskillende historiese, kulturele en sosio-ekonomiese omstandighede op die Eersterivier het. Dit beklemtoon hoe segregasie tussen hierdie onderskeie gemeenskappe negatief bydra tot die Eersterivier se ekologiese welsyn, en uiteindellik ook ‘n negatiewe impak het op die gesondheid van mens en dier wat langs die rivier woon.

Abri de Swardt – die inspirasie agter die projekIn die lig hiervan het Societas hande geneem met visuele kunstenaar en Social Impact Art Prize (SIAP) kandidaat, Abri de Swardt. De Swardt se werk fokus op die kultuur-historiese geskiedenis van gemeenskappe wat langs die Eersterivier woon. Die wedersydse impak en afhanklikheid van mens, industrie en rivier dien as inspirasie vir sy SIAP-projek en het PRG se “The River That Binds Us” geïnspireer.  Na kreatiewe gesprekke met de Swardt is besluit om ‘n bewusmakingsveldtog onder leerders van Paul Roos Gimnasium én Kayamandi te loods met die oog op groter samewerking tussen die jeug van dié twee gemeenskappe. ‘n Verdere doel van die bewusmakingsveldtog is om skole in ander gemeenskappe langs die rivier uit te daag om by Stellenbosch se hoërskoolleerders aan te sluit in hierdie langtermynprojek. Societas beoog ook om lede uit die gemeenskap, organisasies en korporatiewe maatskappye met belang in die bewaring van die Eersterivier, uit te nooi om hierdie projek te ondersteun en daartoe by te dra in 2024.

The Health Promoters (THP) is ‘n nie-winsgewende organisasie in Kayamandi wat poog om die band tussen armoede en siekte te breek. Hul fokus strek van basiese higiëne tot werkskepping en opvoeding rondom algehele gesondheid, geestesgesondheid, genderkwessies en omgewingsgesondheid. The Health Promoters het ingestem om as skakel tussen Paul Roos Gimnasium en Kayamandi se hoërskoolleerders op te tree.

Me Hannelie Caine (PRG) spreek die leerders van Societas en Kaymandi toe voor die water voor Paul Roos Gimnasium getoets word vir teenwoordigheid van lewende organismes.

Net onder die dertig Kayamandi-leerders, George Arrey, Regina Eggink (verteenwoordigers van The Health Promoters), Societas-leerders en PRG-personeel, Dr Charon Buchner-Marais (Universiteit van Stellenbosch en hoofuitvoerende direkteur van CoGo), Unathi Msophi (Stellenbosch Trail Fund) en Brigadier-Generaal Farouk Davids (Faure-gemeenskapsleier) het ‘n dag langs die Eersterivier spandeer. Die groep het by Paul Roos Gimnasium begin waar hulle die rivierwater met die miniSASS (Stream Assessment Scoring System) getoets het. Hier het me Hannelie Caine (Lewenswetenskappe) die leerders ingelig oor hoe die teenwoordigheid of afwesigheid van organismes in die rivier aanduidend van die rivier se algehele gesondheid is. Inheemse plantegroei en sagte ingeneurswese as volhoubare instandhoudingsmetodiek is ook bespreek. Unathi Msophi het verduidelik hoe die Stellenbosch Trail Fund daagliks werk om die Eersterivier gesond te hou.

Unathi Msophi (Stellenbosch River Trail Fund) spreek die leerders toe.

Daarna het die toergroep gereis na die mond van die Eersterivier in Macassar. Op pad daarheen het kunstenaar Abri de Swartdt die leerders toegespreek oor die rivier as lewende organisme. Hy het beklemtoon dat die rivier ook aanspraak kan maak op regte soos dié van mens en dier. Hy het die leerders uitgedaag om aan die rivier te dink as ‘n lewenslyn – ‘n kulturele, geskiedkundige en natuurlike bron waar gemeenskappe vir eeue hul praktyke uitleef, bymekaarkom, voedsel produseer en ontgin, en uiteindellik hul stories in die geskiedenis van Suid-Afrika inets. Dr Charon Bucher-Marais op haar beurt het uitgewys hoe die Krommerivier (Idasvallei) en die Plankenburgrivier (Kayamandi) by die Eersterivier aansluit voor hy uiteindellik die see inloop. Sy het beklemtoon dat al die diverse gemeenskappe van Stellenbosch, Eersterivier, Faure, Macassar, sowel as industrieë langs die rivier, swak ablusie en rioolbesoedeling ‘n rol speel in die toestand van die Eersterivier se water.  Die leerders kon sien hoe die Eersterivier die see inloop terwyl die publiek visvang, en selfs vlieërbranderry. Die ongesonde toestand van die vleilande wat sorg vir die natuurlike suiwering van die Eersterivier, is ook uitgewys. Me Hannelie Caine het by die mond van die rivier water getoets. Die resultate is met die eerste stel toetsresultate vergelyk. Leerders kon ‘n duidelike verskil in watersuiwerheid en -helderheid bespeur.

Brigadier-Generaal Farouk Davids (middel) en sy span.

Op pad terug na Stellenbosch het Brigadier-Generaal Farouk Davids die leerders toegespreek en bewus gemaak van die diverse kultuurgroepe wat tussen Faure en Macasser langs die rivier woon. Die Islamgemeenskap (slawe vanuit Indonesië) van Macassar is uitgewys en leerders kon die Kramat van ‘n afstand beskou en vloedskade in die omgewing bespeur. Davids het die leerders verder ingelig oor die Khoisan-gemeenskap wat vir eeue langs die rivier in die Faure-omgewing woon en afhanklik is van die Eersterivier se gesondheid.  Die industriële en residensiële ontwikkeling in die omgewing en die inbreuk wat dit op inheemse kultuurgroepe, hul tradisies en praktyke in en langs die rivier maak, is weliswaar ook tydens die uitstappie ervaar.

Die Eersterivier en die Kramat in Macassar

Die laaste stop was in Stellenbosch waar die leerders die samevloeiing van die Plankenburg- en Eersterivier kon sien. Die besoedeling in die omgewing was ontstellend en leerders kon ook die impak van die onlangse vloedskade op die omgewing bespeur. Leerders is verder opgevoed oor die gevaar van hoë E. coli-vlakke in rivierwater. Om gesondheidsredes is watertoetse nié in die omgewing gedoen nie.

Dr Charon Buchner-Marais spreek die leerders toe oor die impak wat die Plankeburg rivier op die Eersterivier het.

Die uitstappie is afgesluit met ‘n komplimentêre middagete by die Rupert Museum. Middagete is geskenk deur die Social Impact Arts Prize. Hier het leerders gereflekteer oor hul observasies gedurende die dag. Hulle het idees neergepen oor hoe hulle kan saamwerk om ‘n verskil te maak. Leerders het uitgewys hoe hulle volwassenes navolg en hoe teleurgesteld hulle is dat dié belangrike inligting rakende die belang van gesonde water, die impak van besoedeling en die skaal van die probleem, nie vroeër aan hulle oorgedra word nie. Die belang van bewusmaking en opvoeding is deur die leerders geidentifiseer. PRG en Kayamandi leerders het aangedui hoe hulle wil saamwerk om meer inheemse plantegroei in die rivierwater te help bewerkstellig, ten einde meer organismes te lok om in die rivierwater te floreer. Hulle het aangekondig dat hul wil saamwerk om die besoedeling aan die onderkant van die rivier aan te spreek.  Selfs groter idees in terme van munisipale ingryping en regeringsbeleid is deur leerders voorgestel. Leerders het ook met idees vir die toekoms gespeel – waar saadjies geplant is vir beter omgewingsvriendelike besluite wanneer hulle self ampte in professionele posisies beklee.

Elke teenwoordige leerder is met ‘n sertifikaat voorsien, waarin hulle ook beloof om hulself tot die bewaring van die rivier toe te wy en hul daarop toe te spits om diegene in hulle gemeenskappe op te voed oor ieder en elk se verantwoordelikheid teenoor die instandhouding en beterskap van die rivier.

Paul Roos Gimnasium se PRG Productions het die uitstappie gedokumenteer en sal eersdaags ‘n promosievideo bekendstel wat ander skole, gemeenskappe en besigheidsleiers uitnooi om by “The River That Binds Us” aan te sluit. Societas- en Kayamandi-leerders sal volgende jaar onder professionele leiding weer bymekaarkom om hul idees uit te bou tot praktiese, veilige en implimenteerbare projekte. Die Paul Roosers het ook nuwe insig oor die belang van integrasie en samewerking om ‘n werklike en langdurige impak te maak. Hierdie inisiatief is moontlik gemaak deur Investec.

Die begin van opwindende dinge!

Met dank aan:

Investec

The Health Promoters (George Arrey & Regina Eggink)

The Legacy Centre, Kayamandi

The Social Impact Art Prize

Rupert Museum

Abri de Swardt

Dr Charon Buchner-Marais

Brigadier-Generaal Farouk Davids

Paul Roos Gimnasium: Christine Canaris, Hannelie Caine, Luna Paige

The Stellenbosch Trail Fund