Sport

Paul Roos 1ste Tennisspan naelskraap tweede by Kearsney Tennis Festival

Die 1ste Tennisspan by die Kearsney Tennis Festival is van links na regs op die foto: Swannie Swanepoel (Afrigter), Christiaan Cronje, Divan Prinsloo, Leonardo Sola, Xander Pienaar, Pieter Kotze, Willem de Waal en Echard de Kock

Die 1ste tennisspan van Paul Roos het die afgelope naweek by die Kearsney Tennis Festival naelskraap verloor teen die sterk span van Westville Boys High. Die telling was 4 wedstryde teenoor 2 in die guns van die skool van die Kwazulu-Natal skool.

Dit was vanjaar die 28ste keer dat die Kearsney Tennis Festival plaasgevind het. Agt skole van reg oor Suid- Afrika het aan die Festival deelgeneem. Die skole is in twee groepe opgedeel, nl. die Rafa groep en die Novak groep. Die skole het in die onderskeie groepe teen mekaar gespeel en dan oorkruis gespeel vir ‘n plek in die finaal.

Paul Roos het daarin geslaag om onoorwonne in hul groep te eindig en in die oorkruis semi-finaal het die Maroen Machine met Grey College afgereken. Dit was ‘n soete oorwinning vir die PRG seuns omdat hulle tydens die Zest Fruit Gerrie Berner Toernooi in Februarie teen die einste Grey College in die finaal verloor het.

Die finaal tussen Paul Roos en Westville het kwaliteit tennis opgelewer. Elke wedstryd was taai, maar ongelukkig kon die seuns nie die belangrike punte hierdie keer wen ten einde die wedstryde te beklink nie.

Die PRG span se uitslae is as volg:

PRG wen Affies: 8 – 1
PRG wen Rondebosch: 9 – 0
PRG wen Kearsney College:  9 – 0
PRG wen Grey College: 5 – 2 (Semi-finaal)
PRG verloor Westville Boys High: 2 – 4 (Finaal)

Die span van PRG is: Willem de Waal, Leonardo Sola, Pieter Kotze, Echard de Kock, Divan Prinsloo, Xander Pienaar en Christiaan Cronje.

Tydens die prysuitdelingsfunksie is die volgende spelers as die beste in hul posisie aangewys: Pieter Kotze, beste nr 3 en Xander Pienaar beste nr 6.