PRG O/15-tennisspan wen silwer medaljes by Nasionale Tennistoernooi in Pretoria
Die O/15-tennisspan van Paul Roos was die afgelope naweek in aksie by die O/15 Nasionale Tennistoernooi in Pretoria. Die span het uitstekend gevaar deur die finaal te haal, maar het ongelukkig ‘n baie taai en spanningsvolle eindstryd met 4 – 5 teen Afrikaans Hoer Seunsskool (Affies) verloor. Die toernooi is vanjaar deur Afrikaans Hoer Seunsskool (Affies) aangebied en is by die bane van Groenkloof gespeel.
Die Paul Roos span is verteenwoordig deur: Hanno Bouwer, Simeon Roothman, Sebastian Oosthuizen, Marcel Joubert, Nicholas Lourens, Juvan Weyers en Zach Jooste.

Die PRG-wenspan met hul silwer medaljes is as volg op die foto: Van links na regs: Swannie Swanepoel (Afrigter), Zack Jooste, Sebastian Oosthuizen, Hanno Bouwer, Simeon Roothman, Marcel Joubert, Juvan Weyers en Nicholas Lourens
Die 10 skole is in twee groepe opgedeel en ‘n rondomtalietoernooi het plaasgevind tussen die skole in elke groep. Aan die einde van hierdie fase het die twee groepe oorkruis teen mekaar gespeel ten einde die wenner te bepaal.
Die PRG-seuns het al hul wedstryde in die groepsfase oortuigend gewen en het in die semi-finaal met die span van Grey College afgereken met 5 wedstryde teenoor 2. In die finaal was die uitslag tot en met die laaste wedstryd in die weegskaal. Die wedstrydtelling was op ‘n stadium 4 wedstryde elk en in die finale en beslissende enkelwedstryd was dit stel elk en het die uitslag afgehang van die 10-punt “super-tiebreaker” wat Paul Roos ongelukkig verloor het.
Die uitslae van die Paul Roos span is as volg:
PRG wen Waterkloof: 8 – 1
PRG wen Menlopark: 9 – 0
PRG wen St. Benedicts: 9 – 0
PRG wen Affies B: 9 – 0
PRG wen Grey College: 5 – 2 (Semi-finaal)
PRG verloor teen Affies A: 4 – 5 (Finaal)
Die finale stand van sake na die toernooi is as volg:
- Affies A
- Paul Roos
- Grey College
- Menlopark
- Waterkloof
- Kearsney College
- Affies B
- KES
- Potch Gimnasium
- St. Benedicts
Baie geluk aan hierdie Paul Roos spelers met die pragtige vertoning en wat die skool met trots verteenwoordig het.