Konserte / Concerts

PRG Musiekdepartement en US Drama Departement span kragte saam vir die eerste keer

Paul Roos Gimnasium is nie nét bekend vir sy sport en akademiese prestasies nie. Die skool spog met indrukwekkkende jaarlikse kulturele aanbiedings wat talentvolle seuns die geleentheid bied om hul vaardighede op die verhoog of agter die skerms te slyp. Die populêre PRG Musiekfees is maar een voorbeeld van ‘n kulturele aangeleentheid wat as hoogtepunt in vele Stellenbossers se sosiale kalender geag word. Buiten gereelde musiekkonserte, skroom Paul Roos se musiekdepartement nie om bekende musiekblyspele aan te pak nie. Hul mees onlangse musiekblyspel was “The Little Shop of Horrors” wat musiekliefhebbers en -teaterkenners diep beïndruk het. In 2023 sien Paul Roos Gimnasium veral uit na hul samewerking met die Universiteit van Stellenbosch se Dramadepartement.

Vir die eerste keer in die geskiedenis van Paul Roos en US Drama, sal dié sekondêre en tersiêre instellings saam ‘n projek aanpak. Dit sal die eerste grootskaalse musiekblyspel wees wat in die nuut-opgegradeerde Adam Small Teater opgevoer word. Die samewerking maak dit vir Paul Roos leerders moontlik om die verhoog met dramastudente te deel, direksie van ‘n professionele akteur/regisseur én vervaardiger (onder die wakende hand van professionele tegnici) te ontvang.  Paul Roos se kreatiewes sien veral uit om in dié professionele ouditorium te kan optree waar hulle verseker is van indrukwekkende dekor, beligting en klank.

Teaterliefhebbers kan uitsien om weggevoer te word na die fassinerende wêreld van die Addams Family. Dié Amerikaans-gotiese gunsteling, soos ook onlangs aangevuur deur Netflix se populêre ‘Wednesday’, word beskou as ‘n wild-wonderlike, heerlik-verskriklike, magies-onheilspellende en chaotiese teatrale ervaring.

In dié weergawe van “The Addams Family” – die Musiekblyspel – raak Wednesday verlief op ‘n jong man van ‘n gerespekteerde Ohio-familie. Hy dring daarop aan om by die Addams-familie te kom kuier.  Gomez Addams (Wednesday se vader) moet iets doen wat hy nog nooit voorheen gedoen het nie – hy moet ‘n groot geheim hou, en gevolglik die waarheid van sy geliefde vrou, Morticia, weerhou. Die aand ontvou soos dié twee uiteenlopende families mekaar vir aandete ontmoet.

Die vertoning vind tussen 22 Augustus en 2 September by die Adam Small Teater plaas. Kaartjies kos R155 per persoon en kan alreeds by Quicket aangekoop word.  Studente sal die geleentheid geniet om op aangewese aande hulself in Addams Family-kostuums op te dos. Bes-geklede gehoorlede sal teaterkaartjies vir opkomende produksies by die Adam Small Teater losslaan.  Hoërskole word ook uitgenooi om by te woon. Vir meer inligting, besoek https://qkt.io/lBhzQG.