Algemene Nuus / General News

PRG se kultuurprogram skop af met PRG-Toneelweek

Paul Roos Gimnasium spog met ‘n indrukwekkende en aktiewe kultuurprogram. Die program kry veral lewe in die tweede helfte van die jaar – wanneer PRG se Toneelweek, ‘n jaarlikse musiekblyspel, klassieke uitvoerings, sowel as die gewilde PRG-Musiekfees plaasvind. Die derde kwartaal skop af met die PRG-Toneelweek en sluit die aanbieding van twee top-gehalte toneelstukke in. PRG se Toneelweek word gewoonlik in aanloop tot die land se grootste tienertoneelkompetisies aangebied. Dit gee Paul Roos se produksiespanne die geleentheid om hul toneelstukke voor gehore te slyp voor hulle teen van die land se beste toneelgroepe in kompetisies soos die Klein Libertas Toneelfees, Fraserburg Logan Toneelfees, Hoërskool Durbanville Toneelfees en die ATKV-Tienertoneelkompetisie deelneem. Paul Roos se Toneelweek vind op Dinsdag, 25 Julie en Woensdag, 26 Julie plaas. Beide toneelstukke is nuutgeskrewe en die regie word deur twee uitsonderlike PRG-onderwysers en teaterkenners naamlik Jan-Hendrik Opperman en Brink Nelson behartig.

BROERS:

’n Ongeluk keer ’n oudste broer se wêreld om. Groot besluite moet geneem word, maar die verskeie invloede help nie juis die saak nie. Aanvaar, verander of onttrek? Dit bly egter Gideon se grootste vraag. Dramaturg: Esmé de Wet. Regie: Jan-Hendrik Opperman. Akteurs: Joshua Andreas Kritzinger, Dieter de Kock, Ian Lubbe, Paul Badenhorst, Liam Clarke en Kobus Kotze.

VALDEUR:

Oor die generasies word name oorgedra – die vraag bly staan, is dit ‘n goeie of ‘n slegte ding? ‘n Groep vriende werk aan ‘n taak en ontdek geheime van hul herkoms. Maar iets het by die valdeur gebeur. Hoe sal hierdie insident die intrige beïnlvoed? Wie is Niël Burgert van Dijk werklik, oftewel, wie wil hy wees? Dramaturg: Esmé de Wet. Regie: Brink Nelson. Akteurs: Daniël Prinsloo, Steffan Thielen, Fanie Wessels, Altus du Plessis, Zac Theron, Chris van den Berg en Francois Odendaal.

Beide produksiespanne (tegnies en akteurs) bestaan uit Paul Roos leerders en beide produksies word op die volgende twee aande opgevoer:

Dinsdag, 25 Julie
Slegs vir skoliere (alle skole welkom)
19:00 vir 19:30
Japie Krige Saal, Paul Roos Gimnasium
R20 per kaartjie
Kaartjies by die deur beskikbaar: kontant, Snapscan of kaartbetalings

Woensdag, 26 Julie
Oop vir die publiek & volwassenes
18:00 vir 18:30
Japie Krige Saal, Paul Roos Gimnasium
R50 per kaartjie
Kaartjies beskikbaar by Quicket
Skakel: https://qkt.io/FixONn

Moontlik gemaak deur X-Chequer Fund Management.
Ondersteunende borge: Atterbury Property en FNB