PRG-toneel se vere is uitgeskud en reg vir die jaar se tienertoneelkompetisies
Op 25 en 26 Julie het Paul Roos Gimnasium se onderskeie toneelgroepe hul nuutgeskepte toneelstukke vir die eerste keer voor gehore opgevoer. PRG-toneelweek is ‘n spesiale week in die PRG-kultuurprogram – waarin Paul Roos se jong akteurs die kans kry om die twee toneelstukke wat hulle vir verskeie tienertoneelkompetisies ingeskryf het, voor ‘n ondersteunende gehoor te toets. Op Dinsdagaand het Paul Roos-leerders en hul vriende van omliggende skole aan mas opgedaag om soos tradisie vereis – hul mede-leerders te ondersteun. Op Woensdagaand het Paul Roos se kultuurborge, PRG-personeel sowel as personeel van buurskole, ouers en familielede die geleentheid geniet om ‘Broers’ en ‘Valdeur’ te ervaar. Beide stukke was goed ontvang. Paul Roos Gimnasium neem heel eerste deel aan die Klein Libertasteater Tienertoneelfees (27 Julie – 1 Augustus 2023). Paul Roos speel 1 Augustus om 15:30 (Val(deur)) en 17:15 (Broers). Die tienertoneelfees vind plaas by Hoërskool Stellenbosch. Op Vrydag, 4 Augustus sal Paul Roos se twee produksiespanne die pad F raserburg toe aanpak – waar hulle deelneem aan die Fraserburg Logan Toneelfees (1 – 5 Augustus 2023). Die Paul Roosers speel op Vrydag, 4 Augustus as deel van die oggendprogram by Hoërskool Fraserburg. Hierdie twee kompetisies word gevolg deur die Hoërskool Durbanville Toneelfees wat die 15de Augustus plaasvind en die groot hoogtepunt – die streeksronde van die ATKV-tienertoneelkompetisie wat op 26 Augustus by die Baxter Teater in Kaapstad plaasvind.