PRG Toneelnuus
PAUL ROOS BRING DIE WEEK 2 NUWE TONEELSTUKKE OP DIE PLANKE
PRG Drama is trots om twee produksies in 2022 op die planke te bring. Paul Roos se toneelspelers sien daarna uit om met “Skrum” en “Tienertoneel” aan die Fraserburg Logan Toneelfees (4 Augustus), Montagu Nasionale Jeugkunstefees (10 Augustus), Hoërskool Durbanville Skoletoneelfees (12 Augustus) en die ATKV-Tienertoneelfees deel te neem.Die Paul Roos gemeenskap word uitgenooi om PRG se toneelspelers te ondersteun wanneer hulle “Skrum” en “Tienertoneel” vir die eerste keer opvoer. Dié twee toneelstukke word op Donderdagaand, 28 Julie en Vrydagaand, 29 Julie in die Japie Krige Saal opgevoer. Beide werke word elke aand opgevoer en dien as voorbereiding vir hul deelname aan die tienertoneelkompetisies.
Donderdagaand is Openingsaand en uitsluitlik vir leerders.
Kaartjies beskikbaar teen R20 per leerder.
Deure open om 19:00.
Die vertoning begin 19:30.
Kaartjies is by die deur beskikbaar waar leerders met Snapscan, kaart en/of kontant kan betaal.
Volwassenes word uitgenooi om “Skrum” en “Tienertoneel” op Vrydagaand, 29 Julie, te kom beleef. Kaartjieverkope vind aanlyn plaas by Quicket en is beskikbaar teen R50 per volwassene.
Sjerrie, sop en brood is beskikbaar by die geleentheid.
Deure open 18:00.
Die vertoning begin 18:30.
Ouers word aangemoedig om vooraf kaartjies te bespreek
Koop kaartjies: via Quicket
Omskrywings:
Skrum
Dramaturg: Esther von Waltsleben (Verwerk deur Brink Nelson)
Regisseur: Brink Nelson
“640kg bots teen 640kg soos ’n reusagtige spinnekop wat met homself baklei. Die skrumskakel plaas die bal onder die maag van die gedierte en soos voelers wat kriewel, begin voete na die bal haak. Ek is die flank – reg om uit te sprei, aan te stuur en as die bal aan die opposisie se kant uitkom, te storm en my mededinger plat te trek met elke krieseltjie krag wat ek in my lyf het…”
Die kronkelpad wat ’n tienerseun tot die grootmenswêreld bewandel is dikwels vol slaggate, struikelblokke en slagysters. Die vraag is egter: is hy mans genoeg om sy eie weg te baan of gaan hy hom vasskrum in dit wat die wêreld van hom verwag?
Tienertoneel
Dramaturg: Danie Stander en PRG-leerders, Joshua Calmeyer en Jordan Cridland.
Regisseur: Jan-Hendrik Opperman
Karel Potgieter het sonder toestemming sy eie dramaklub begin in die hoop dat hy ‘n groot poel van leerders sal hê wat belangstel, maar twee leerders sal voldoende wees.
Hoe op dees aarde wil Karel ‘n wenproduksie op die ATKV Tienertoneel verhoog bring wanneer hy nie eers sy akteurs in dieselfde vertrek kan kry nie of ‘n teks het nie?